SkerpbyPassop vir die Palaborwa ExpressTuesday, February 09, 2010
Comments: 0
In my uitsaailoopbaan het ek in 36 jaar kommentaar gelewer oor 517 wedstryde. Daaronder was ‘n groot aantal 5-daagse toetse asook meerdaagse Curriebekerwedstryde, dus baie meer as ‘n duisend dae. Selde, indien ooit, het ek soveel verwoesting in een uur gesien het, as wat Dale Steyn aangerig het nie.
Sy bynaam is die Palaborwa Express, maar na gister sal hy dalk bekend staan as die Bengaalse Tier. Die Bengaalse Tier, ‘n pragtige dier, is ‘n bedreigde spesie in Indië en meer as ‘n bedreiging vir die Indiese kolwers was Steyn beslis in 16 boulbeurte en 4 balle, neen hy 7 paaltjies en staan 51 lopies af. Sehwag het ‘n briljante 109 gemoker. Ons boulers, insluitende Steyn en Morkel, het te kort van ‘n lengte geboul en dit was kos vir Sehwag, want met sy regkaphou het hy die een 4 na die ander gemoker en teen die punt grens laat klap. Toe Parnell hom uitgehaal het, was die telling ‘n redelike 192/4. Badrinath is op 221 uitgehaal vir 56. En toe het die poppe begin dans. Van 221/4 na 233 almal uit! 6 paaltjies kantel en net 12 lopies word aangeteken. Steyn neem in 5 boulbeurte na tee, 5 paaltjies en staan net 3 lopies af! Geenwonder nie dat toe hy die laaste paaltjie geneem het, hy die bal by een skeidsregter as aandenking geneem het nie. Dit beteken dat die ander 9 Indiese kolwers saam net 68 lopies bymekaar kon skraap. Toe hardloop Steyn ‘n hele paar trappe op, 10 minute later is hy weer op die veld en kry sy 8ste paaltjie vir die dag deur van die gevaarlike Sehwag ontslae te raak. Ek het al lank gelede gesê dat wanneer ‘n bouler 5 paaltjies in ‘n beurt neem, dit gelykstaande is aan ‘n kolwer se honderdtal. Een van ons kommentators daar, Robin Jackman het dit beaam, en ook bereken dat Steyn nou in elke 3rd toets, 5 paaltjies neem. Hy het die bal skerp laat inswaai, amper soos wegbrekers, en van die kolwers is deur Steyn as ook deur Morkel uitgehaal sonder om na die bal te speel. Sonder om afbreuk te doen, moet ek darem net noem dat Indië sonder Dravid (gebreekte kakebeen) en VVS Laxman speel, asook die man wat groot sesse slaan, Yuvrav Singh. Hy het mos hier in ons land net die 4de kolwer in die geskiedenis geword wat al 6 balle in ‘n boulbeurt vir sesse geslaan het. Eerste was dit Sir Garfield Sobers, toe Ravi Shastri en daarna Herchelle Gibbs. Dit is ook goed om te sien dat Kallis weer so fiks is, dat hy balle teen meer as 130km per uur boul. Ons hou styf duime vas dat ons die reeks kan wen en weer nr 1 in die wêreld kan word.
NO COMMENTS HAVE BEEN RECORDED
|
||||
|
|
||||